As ons die gebooie van God gehoorsaam, weet ons daaraan dat ons Hom ken. (vers 3)
As iemand jou vra hoe jy weet jy is ’n kind van die Here, kan daar baie antwoorde wees. “Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so,” het ons as kinders gesing. Die Bybel sê immers almal wat Hom aangeneem het, het die reg om hulleself kinders van God te noem (Joh 1:12). Jy sou ook kon sê jy weet, want jy glo in Hom as jou persoonlike Saligmaker. In die teologie praat ons van die syllogismus mysticus – die innerlike oortuiging dat jy God s’n is.
Johannes gee nog ’n kriterium, die syllogismus practicus – die sekerheid van saligheid wat jy uit jou optrede kan sien. Jy weet jy is ’n kind van God, sê hy, want jy leef soos een. Jy gehoorsaam sy Woord (vers 5); jy lewe soos Jesus gelewe het (vers 6).
Kyk na jou eie lewe. As jy daarin die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) gewaar, kan jy weet dat jy aan God behoort. Die Westminister Confession bely: Goeie werke is die vrug en bewys van ’n lewende geloof. Deur goeie werke te doen, versterk jy jou sekerheid.