Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. Maar ons sien Jesus … (Heb 2:8-9)
In Psalm 8, waaruit die skrywer in vers 6-8 aanhaal, besing die digter die grootheid en almag van God na aanleiding van die wonder van die skepping. En dan sing hy ook oor die wonderlike plek wat die mens in die skepping ingeneem het. Maar in plaas daarvan dat ons oor God se mooi wêreld heers, mors ons dit op. G’n wonder hy sê ons sien dit nie (vers 8). Ons is nie wat God bedoel het dat ons moet wees nie. Ons reflekteer nie die heerlikheid van ons wonderlike God nie.
Dáárom het Jesus gekom, om God se bedoeling met die mens te kom vervul. Wat ons nie kan nie, waar ons misluk het, daar het Jesus gekom, juis om aan God se hoë verwagtinge van die mens te kom beantwoord. Jesus word mens sodat ons konings kan word, kinders van die hemelse Vader. Want net as kinders van God kan ons weer die kroon van die skepping wees soos Ps 8 so pragtig beskryf.
Jy en ek is deur Jesus verander tot Koningskinders! Kom ons leef dan so.
Views: 11