Daniël het hom voorgeneem om hom nie met die koning se kos en wyn te verontreinig nie en hy het die hoofpaleisbeampte vergunning gevra om dit nie te gebruik nie. (vers 8)
Dit is duidelik dat dit vir koning Nebukadnesar nie maar net daaroor gegaan het om die klomp Joodjies ’n goeie opleiding te gee nie. Dit het vir hom om hulle harte gegaan. Alles wat hulle aan hulle Joodsheid en geloof in Jahwe herinner het, het hy vervang met Babiloniese inhoud: hulle name, hulle spyskaart, hulle taal.
’n Mens kan jou daaroor verwonder dat Daniël en sy drie vriende dié aanslag kon weerstaan. Natuurlik het God alles daarmee te doen gehad. Ons lees dat God die hele tyd by hulle betrokke was (verse 9 en 17).
Ander faktore het hulle ook gehelp. Daniël was nie alleen nie. Hulle was vier wat saamgestaan het. En hulle was nie meer laerskoolkinders nie; hulle was omtrent 14 jaar oud. Die geloofsfondament wat hulle van huis uit as kinders gekry het, het hulle in staat gestel om tussen reg en verkeerd te onderskei en staande te bly.
Moenie dit wat jy jou (klein)kinders leer, onderskat nie! Dís waar hulle geloof en karakter gevorm word.
Views: 76