… in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. (Kol 2:7, 2020-vertaling)
Gister het ons gesien dat ons fyn moet luister om God se wil te kan ken. Dis nie ’n klomp moets en moenies nie. In die eerste plek wil Hy ons bind aan sy Seun, sodat ons Hom kan navolg.
Dit tref mens dat Paulus dankbaarheid as die vrug van só ’n lewe uitsonder (vers 7). ’n Lewe wat letterlik ‘oorvloedig is in dankbaarheid.’ Miskien is dÃt juis die diepste nood van ons dag: dat ons danklied stil geraak het omdat ons binnekamer leeggeloop het; omdat – in die woorde van Augustinus – ‘die mure van die kamer van my siel omgeval lê …’
Om hierdie oorvloedige dankbaarheid te beleef, is dit nodig om die deur eers toe te trek. Vroeg soggens voor die dag se geskarrel begin. Saam as ’n gesin om die kombuistafel. Iewers deur die dag by die eet van ’n toebroodjie. Saans as ons ons moeg neerlê.
Om te kan volhard, gehoorsaam aan ons roeping, is dit allereers nodig om eenkant te gaan bid vir ons lewe in Christus. En vir Christus in ons lewe.