Hulle sê toe vir mekaar: “Ons sal niks teen hierdie Daniël kry nie, behalwe as ons iets kan kry in verband met sy godsdiens.” (vers 6)
Hierdie vertelling is een van die bekendste Bybelverhale wat ons van kindsbeen af goed ken. Dit het baie ooreenkomste met hoofstuk 3, waar Daniël se vriende in die brandende oond beland en ongeskonde daar uitkom, danksy God se bewaring. Dit onderstreep weer eens dat ons nie aan ons eie lot oorgelaat word nie, en dat ons daarom met hoop kan leef, kom wat wil.
Die verhaal konfronteer ons egter ook. Daniël se voorbeeld praat hard. Sekerlik is sy getroue en volhardende gebedslewe (vers 11) vir ons ’n voorbeeld. Baie gelowiges het bv. nie die vrymoedigheid om in ’n restaurant openlik die Here te dank vir die kos nie. Hulle bid terwyl hulle oor die voorkop vryf, om so hulle gebed te verdoesel.
Maar meer nog. Hy het sy werk letterlik onbesproke gedoen (vers 5), al het hy as senior minister sekerlik baie geleenthede gehad om homself te verryk. Nou wonder ek, as mense na mý lewe kyk en iets soek om my mee by te kom, sal hulle genoeg rede kry om van my ontslae te raak?
blessed