Deur sy vindingrykheid sal hy slaag met sy sluwe optrede. In sy verwaandheid sal hy baie mense goedsmoeds om die lewe bring. Hy sal selfs die hoogste Regeerder uitdaag, maar sal vernietig word sonder die toedoen van ’n mens. (vers 25)
Die visioen van die skaapram en die bokram wat Daniël in hoofstuk 8 sien, stem grootliks ooreen met die visioen van hoofstuk 7. Dit handel ook oor die opeenvolgende regerings van Medië en Persië en van Griekeland, of eintlik Alexander die Grote (verse 20-21). Ná Alexander die Grote se ontydige dood het sy ryk in vier opgebreek, en Antiogos IV Epiphanes het die een deel van die ryk wat Palestina ingesluit het, later regeer. Sy pogings om die Jode te onderdruk en hulle geloof te vernietig was ongehoord (vers 24). Hy het bv. die Joodse priesters gedwing om varke te offer, selfs op die altaar in die tempel, en só die tempel ontheilig (Dan 9:27).
Die skrywer herinner sy lesers daaraan dat dié goddelose heerser nie vir altyd sal regeer nie. God Self sal hom vernietig (vers 25). In Christus hét Hy dit gedoen, en daarom kan ons Hom vandag sonder vrees of dwang aanbid en dien.
Views: 30