Hy sal sy koninklike tente opslaan tussen die see en die pragtige berg waar die heiligdom staan. Maar dan sal hy aan sy einde kom en niemand sal hom kan help nie. (vers 45)
In Daniël 11 deel die engel aan Daniël die verloop van die geskiedenis mee (vgl Dan 10:21). Dit begin by die laaste jare van die Persiese Ryk en die verowering deur Alexander die Grote (vers 3). Dit loop uiteindelik uit op die regering van Antiogos IV Epiphanes se wrede bewind en ontheiliging van die tempel (vers 31) en vervolging van die Jode wat aan God getrou gebly het (vers 32).
Die verteller wil met hierdie verhaal sy lesers aanspoor om aan God getrou te bly. Uiteindelik sal Antiogos IV Epiphanes se bewind tot ’n einde kom (vers 45), en daarom moet hulle moed skep. God is in beheer van sake.
Hierdie versekering van die skrywer van die boek Daniël is vandag nog net so waar. God is in beheer. In Christus het Hy ons losgekoop van die bose magte wat ons wil verslaaf, en uiteindelik sál Hy triomfeer oor alle magte wat Hom teenstaan. Daarom hoef ons nie te skrik as ons teenstand beleef nie. Die geskiedenis is in God se hand.
Views: 22