Hy verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ’n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra … (vers 16)
Die hervormer Martin Luther het die duiwel God se aap genoem, want hy probeer gedurig God na-aap. In Op 13 het ons ’n klassieke voorbeeld van sy na-apery. Ons aanbid ’n drie-enige God: Vader, Seun en Gees. Die Bose het ook ’n bose drie-eenheid: Satan (die draak, 12:18), die Antichris (die dier uit die see, 13:1) en die vals profeet (die dier uit die aarde, 13:11).
Die dodelike wond wat genees het (vers 3), verwys na ’n storie wat keiser Nero oor homself versprei het. Die godslastering (vers 5,6) is ook ’n verwysing na Romeinse keisers wat hulleself as gode voorgedoen het. Destyds was keiseraanbidding ’n afdwingbare godsdiens waaroor menige Christen ’n marteldood gesterf het.
Die vals profeet is die Romeinse staatsmasjienerie wat mense gedwing het om die keiser te aanbid. Dié wat dit wel gedoen het, het ’n sertifikaat gekry wat hulle toegang tot die ekonomie gegee het. Dit is waarna die getal 666 verwys (teenoor God se merk, 7:3). Terwyl 7 die volmaakte getal (God se getal) is, is kom Satan nooit daarby uit nie. Daar is net een God!
Views: 59