Was jou, maak jou mooi en trek jou netjies aan en gaan na die dorsvloer toe. […] Dan gaan jy soontoe en kruip by sy voete in. (vers 3-4)
Naomi se plan is eenvoudig: Rut moes stilletjies in Boas se bed gaan klim en haarself vir hom aanbied. Die feestelike stemming by die oes-af fees sal vir die res sorg. As Boas by Rut slaap, was hy moreel (en wetlik) verplig om met haar te trou.
Naomi het haar vertroue dat God sake reg sal reël, verloor. Vir haar was God nie ’n hulp nie, maar ’n vyand (Rut 1:21). En daarom sien sy nie kans om haar lot in God se hande te los nie.
Dis ons dilemma. Ons kan nie vooruit seker weet dat God sake sal reël soos óns dit wil hê nie. Moenie dan kortpaaie vat soos Naomi nie! Boas het ook nie geweet wat sou gebeur nie. Daarom sê hy (vers 13): “As hy dan moreoggend bereid is om as jou losser op te tree, goed …”
Wat is goed daarin? Dat dit Gód se besluit is, en nie joune nie. Dat Hý beskik. Paulus sê hieroor (Rom 8:28): “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet …”
Views: 31