Erken dat die Here God is: Hy het ons gemaak en ons is Syne, ons is sy volk, sy eie kudde. (vers 3)
Daar is twee maniere waarop jy die Here kan dien: as ’n slaaf wat jou diens aan Hom as ’n plig beskou (en daarom maak dit jou moeg), of as ’n geliefde kind vir wie dit ’n vreugde is om in God se teenwoordigheid te kom en Hom te loof. Dit gee jou energie. Hy is immers jou hemelse Vader!
Hierdie psalm kom uit die hart van iemand wat die Here as ’n Vader dien, wie se mond vol is van God se lof. So oorweldig is die digter oor God se goedheid en troue liefde dat dit nie vir hom genoeg is om God alleen te loof nie, of selfs saam met ander geloofsgenote nie. Hy roep die ganse aarde op om deel te hê aan hierdie magtige loflied.
Watter plek neem lof in in jou geloofslewe? Nie dank nie, maar lof? Waar jy die Here loof en prys uit die hart as jou Vader, jou Verlosser, jou Voorspraak?
Nou is ons lof nog gebrekkig, maar eendag sal ons aansluit by die hemelse koor. Is dit nie iets om na uit te sien nie?
Naskrif: Ons sluit hier eers ons Psalm-oordenkings af. Môre begin ons met die Brief aan die Galasiërs.
Views: 14