Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete. (vers 17, 2020-vertaling)
’n Mens kan dit byna nie glo dat die Here steeds só kan praat nie. As jy die voorafgaande twee hoofstukke lees, is dit immers duidelik dat daar ’n groot skroef los is onder die Godsvolk. En tog! Hy verheug Hom met blydskap oor sy mense – oor jou!
Die woorde van Joh 3:16 kom onwillekeurig by my op: So lief het God die wêreld gehad … Sefanja maak dit nog meer persoonlik. So lief het God vir jóú. Hy juig oor jóú. Of, in die woorde van die engelekoor aan die skaapwagters in Luk 2:14: die goeie nuus is vir die mense in wie God ’n welbehae het.
Te midde van die onrus en die rumoer van ons wêreld maak Hy jou stil met sy liefde.
Ek wil in dié dae stil word voor Hom en sy liefde bedink. En waar daar storms en onrus in my gemoed dwarrel, weet ek: Hy sal my storms stilmaak. Sy liefde sal dit uitwis (vgl 1 Joh 4:18). Hý wis dit uit. Dit is Kersfees!
Naskrif: Ons begin môre met die Evangelie volgens Matteus.
Views: 52