Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees … (vers 14)

Jesus het vol van die Heilige Gees (vers 1) die woestyn ingegaan en is daar 40 dae lank deur Satan versoek. Daarná kom Hy terug, vol van die krag van die Gees (vers 14). Die versoekings het Hom sterker gemaak, nie swakker nie.
Satan se strategie was om Jesus te probeer verlei, en hy haal selfs Skrifgedeeltes aan in sy redenasies. Jesus weifel egter nie vir ’n oomblik nie, en sit hom telkens op sy plek deur die woord van God te gebruik. Die woord van God ís immers “die swaard van die Gees” (Ef 6:17).
Die Bybel is vandag steeds ons sterkste verdediging teen Satan se versoekings. Maar dan moet ons natuurlik die Bybel kén; dit moet ons denke vorm. Ons moet dit in ons hart koester (Ps 119:11, 2020-vertaling).
Die berig oor Jesus se preek in Nasaret is erg ontstellend. Hier was ook mense wat die woord van God gekoester het (vers 22), maar net solank die interpretasie van die Bybel by hulle eie siening ingepas het. Toe Jesus hulle daarop wys, wou hulle Hom daaroor vermoor.
Dit is daarom nodig dat ons ons eie Skrifverstaan telkens weer eerlik ondersoek.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.