Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het ’n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! (vers 17)
Die Jode in Jesus se tyd het nie geweet wat hulle wil hê nie, behalwe dat dit nié was wat Hy gebied het nie. Wat Hy ook al gedoen het, was verkeerd. Jesus het God se genade en liefde verkondig, maar dit wou hulle nie hoor nie. Dit het hulle nie laat dans van vreugde nie. En Johannes, wat ’n ander kant van die geloof belig het met sy boeteprediking, het hulle ook koud gelaat.
Laat ons nie te gou die kop skud oor die Jode se hardkoppigheid nie. Wat hier beskryf word, is eintlik die geskiedenis van die mensdom: God oorlaai ons met die bewyse van sy genade, en ons is met niks daarvan tevrede nie. Daarom Jesus se dringende uitnodiging aan die einde van die hoofstuk. By Hom raak ons skeptiese houding weg en kry ons rus vir ons gemoed (vers 29).
Laat ons die Here bid dat Hy ons die hart en wil en geloof sal gee om Hom regtig met vreugde en oorgawe (al dansend) te volg.
Views: 20