Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, net U kan die swakke teen ’n oormag help. Help ons, Here ons God! Ons steun op U, en in u Naam trek ons teen dié menigte op. U is ons God, Here; moenie dat ’n méns teen U seëvier nie.” (2 Kron 14:11)

Asa het gedoen wat ons ook doen as ons in die nood is: ons vlug na die Here en roep sy hulp in. Die nood was inderdaad oorweldigend. Die Kussiete (oftewel Etiopiërs) het met ’n geweldige oormag teen die Judeërs opgeruk. Net ’n wonderwerk kon Asa en sy leër uit dié benarde situasie red.
Dis duidelik uit Asa se gebed dat dit nie die eerste keer was wat hy die aangesig van God opgesoek het nie. ’n Mens kry die indruk dat hy ’n man was wat biddend geleef het. Daarom het hy nie geaarsel om God se hulp in te roep nie. Vir hom was dit nie net ’n kwessie van oorlog teen ’n oormag nie; die eer van die lewende God was op die spel (vers 11c).
Jy kan ook in jou nood na God vlug, soos Asa. Veral as gebed nie net ’n noodwiel is nie, maar deel van jou daaglikse lewe.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.