Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê? (vers 31)
Dit lyk my die Here wil vir ons in die gelykenis van die twee seuns (vers 28-32) leer dat ’n blote ja-woord vir Hom nie goed genoeg is nie. Dat Hy op die ou end nie soveel belang stel in wat ons vir Hom sê nie, maar in ons dade. Want dit is hier waar die twee seuns se paaie geskei het.
Ons het ook almal vir die Here ja gesê, toe ons belydenis van geloof afgelê het, of later weer toe ons ons kinders laat doop het …
’n Kommentaar sê dit gaan ook oor ons gebede. Dit kan gebeur dat ons deur ons gebede ons verantwoordelikheid op God afskuif, dat ons dink ons kan maar net bid oor een of ander saak, en dan handjies gevou sit, want God sal dit mos nou doen. Nou hoef ons nie meer iets te doen nie. Ons bid vir herlewing, maar dink nie daaraan dat die Here dalk in ons eie harte wil begin nie. Ons bid vir die armes en die eensames, maar help hulle nie of gaan soek hulle op nie. God moet maar daarvoor sorg dat hulle nood verlig word.
Hoe werk jou geloof?