Jesus sê vir hulle: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” (vers 21)
Hoeveel van my tyd, of my geld, moet ek vir die Here gee? Dis die verkeerde vraag. Want alles wat ons is en het, behoort immers klaar aan Hom. Daarom moet ons eerder vra: Hoeveel kan ons vir onsself hou? Ons diens aan God is nie hiér, en ons lewe in die wêreld dáár nie. Ek kan nie my lewe in kompartemente verdeel en sê hierdie kompartement is God s’n nie, of hierdie persentasie van my geld is Syne nie. Álles is Syne. My hele lewe – hoe ek in my huis saam met my mense leef; hoe ek my werk doen; hoe ek ontspan; hoe ek om die braaivleisvuur of langs die sportveld is – is alles ’n uitdrukking van my lewe voor die Here, want ek behoort aan Hom.
Dit geld natuurlik ook my finansies. Hoe bereken jy hoeveel jy as dankoffer gee? Of liewer: hoeveel gaan jy vir jouself hou?
Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort. Dít is God se woord aan ons vandag.
Views: 24