Toe sê hy: “Maar julle het my god wat ek gemaak het, gevat en ook my priester, en nou gaan julle weg. Wat het ek nou oor? (vers 24)
Die mense van Dan het net soos Miga geredeneer. Hulle wou die tekens van God se teenwoordigheid en guns hê – die efodbeeld en afgodsbeeldjies en die priester – en hulle het nie omgegee hoe hulle dit in die hande gekry het nie. Vandag kry jy nog steeds mense wat die tekens van God se genade wil hê. Daarom trou hulle in die kerk, laat hulle kinders doop, sorg dat die kinders die Sondagskool en katkisasie bywoon – sonder dat hulle die Here self ken.
Die probleem is net: as jy ’n selfgemaakte godsdiens het, het jy nie regtig iets nie. Dit ontdek Miga ook daardie dag. Toe hy die diefstal ontdek, sit hy hulle agterna en skree dat hulle sy goed moet los (vers 24). Dis een van die mees patetiese uitsprake in die Bybel. As ’n mens jou godsdiens só inrig dat dit jóú pas, sus dit dalk jou gewete vir ’n ruk, maar, so ontdek Miga daardie dag, dit is vir jou niks werd nie, want God is nie daarin nie.