Hulle moet vir My ’n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon. (vers 8)
As ’n mens Psalm 139:7-10 lees, is dit duidelik dat God nie beperk is tot een enkele plek nie. Die Here Jesus bevestig dit in sy gesprek met die Samaritaanse vrou in Joh 4:21-24. Tog beveel God vir Moses om ’n heiligdom op te rig sodat Hy tussen sy mense kan woon.
Dié opdrag was waarskynlik nie ter wille van God self nie, maar ter wille van sy volk, sodat hulle ’n plek van aanbidding kan hê waarheen hulle met hulle nood en klag en lof en vreugdes kan gaan.
Die aanbiddingsplek wat God voorskryf, het baie verskil van dit wat die Israeliete in Egipte gesien het – massiewe en imposante tempels vir die veelheid van gode wat die Egiptenare aanbid het. In skerp teenstelling hiermee vra God ’n tabernakel, oftewel ’n tent. Dis ’n tydelike woning. Later, toe Dawid besluit om vir die Here ’n tempel te bou, is Hy glad nie gemaklik daarmee nie en sê Hy reguit dat Hy dit nooit gevra het nie (2 Sam 7:5-7).
Groter, imposanter, blinker, luukser, spoggeriger is nie gelyk aan beter as ons voor God leef nie.