Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak. (vers 18)
Waar sien ons die teenwoordigheid van God wat met Jesus se koms aangebreek het?
Johannes skryf (vers 10-11): “Hy wás in die wêreld […] en tog het die wêreld Hom nie erken nie.” Mense het nie vir God in Jesus herken nie. Hulle het die opsienbarende verwag, die opspraakwekkende. Jesus het self gesê die mense stroom agter Hom aan, net om wonderwerke te sien. Die ironie is dat Hy wél wonders gedoen het, maar dat dit op die ou end nie vir die mense genoeg was nie. Daarom skreeu hulle uiteindelik: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!”
As jy God se teenwoordigheid in die opspraakwekkende en opsienbarende soek, sal jy waarskynlik ook teleurgesteld wees. Dis wat Johannes heel aan die begin vir ons wil sê: dat God op ánder maniere sigbaar word as wat ons sou dink en selfs sou verkies. Met die blote oog gaan jy Hom nie sien nie.
Baie mense mis God omdat hulle na Hom op die verkeerde plekke soek; op die plekke waar húlle meen hulle Hom makliker sal sien. Johannes sê: kyk na Jesus. Hý wys ons hoe God lyk.
Views: 70