’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. (vers 4)
Baie mense dink dat jou saak met God reg is as jy die Here Jesus as jou persoonlike Verlosser aangeneem het. Maar dit is nie die hele verhaal nie. Ons word nie verlos net om eendag in die hemel te kom nie. Ons word God se kinders sodat ons ’n verskil in die wêreld kan maak. Dit is nie onderhandelbaar nie. Ons móét vrug dra (vers 2).
Hoe kry ons dit reg? Jesus sê: Ons moet in Hom bly (vers 4,5).
Eie pogings sal ons nêrens bring nie. Dit gebeur deur ’n verhouding met die Here Jesus. Ek moet in Hom vasgroei. Om Christen te wees, beteken nie net dat ek aan die kerk behoort en volgens ’n stel reëls my lewe inrig nie. Om Christen te wees, beteken om in ’n verhouding met Christus te lewe, een met Hom, sodat Hy my alles word, my hele lewe oorneem.
Die wonder is dat as ons elke dag só aan Hom vashou, die vrug van die geloof, die vrug wat sal hou, as ’t ware vanself kom (vers. 5).
Views: 22