Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ (2 Kron 7:21)
Jy wonder dalk hoekom hierdie verskriklike waarskuwing in dieselfde hoofstuk staan wat vertel dat die Here die tempel met sy magtige teenwoordigheid gevul het (vers 1). Dié waarskuwing is natuurlik nie iets nuuts nie. Dit staan ook in Lev 26:14 e.v. en elders. Maar die Kronis het dit juis hier bygevoeg, gedagtig aan die feit dat sy lesers Jode in ballingskap was; mense wat gesien het hoe die fantastiese tempel in rook en as opgegaan het, en gewonder het wat dan van God se trou en beskerming geword het.
Wat gebeur het, bly inderdaad ’n raaisel. Hoe kon ’n nasie wat op soveel verskillende maniere daarvan verseker is dat die lewende God by hulle is, en wat geleef het met God se belofte van ewige trou en seën, hoe kon hulle die rug op God draai?
Dit is so onverstaanbaar soos die sonde self. Daarom pas ootmoed hier, want wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie (1 Kor 10:12). Net God se trou kan ons staande hou (1 Kor 10:13).
Views: 14