Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. (vers 15)
Saul se reaksie toe Samuel hom konfronteer, laat my aan twee gebeurtenisse dink. Die eerste is Aäron se reaksie toe Moses hom oor die goue kalf gekonfronteer het – hy het dadelik die skuld op die volk gepak. “U weet self hoe sleg die volk is,” verskoon hy homself (Eks 32:22). Die ander voorval is toe die profeet Natan vir Dawid gaan spreek het oor sy owerspel met Batseba en sy moord op Urija. Dawid se reaksie (2 Sam 12:13) was: “Ek het gesondig teen die Here.”
Dit gebeur met ons almal dat ons een of ander tyd droogmaak en sondig (Rom 3:23). Dit is deel van ons gevalle menslike natuur. Hoe ons reageer wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word, wys wat in ons steek. Saul se lamsakkige verskoning beïndruk ongelukkig nie.
Samuel se uitspraak (vers 22-23) laat ’n mens diep nadink. Gehoorsaamheid aan die Here se woord kom voor alles. Weerspannigheid en eiesinnigheid noem hy in een asem met waarsêery en afgodery.
Daarom bid Jesus presies dit vir ons – toegewydheid aan God se woord (Joh 17:17).