(Saul) het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie … (vers 6)
Hier bereik Saul se lewe ’n absolute laagtepunt. ’n Mens kan jou eintlik nie ’n slegter einde indink nie. Hy het begin met die toerusting van die Gees, en hy eindig waar hy ’n waarsêersgees moet raadpleeg omdat God se Gees hom verlaat het.
Dis nie verbasend nie dat die Here Saul nie antwoord nie. Saul het immers vir alle praktiese doeleindes self die stem van God stilgemaak toe hy die priesters van Nob laat vermoor het. Daarmee het hy ook die ondersteuning van die profete van God verloor.
In sy desperaatheid doen hy die ondenkbare. Hy raadpleeg ’n Kanaänitiese dodebesweerder; iets wat uitdruklik in die Bybel verbied is. Deut 18:9-14 noem dit ’n afskuwelike praktyk, en vroeër het Saul self opdrag gegee dat hierdie bedrywe uitgeroei moet word.
Maar wat moet ’n mens doen as die Here stil is? Sekerlik nie met okkultiese bedrywighede deurmekaar raak nie. As Saul liewer tot inkeer gekom het en sy skuld voor God bely het! Agter die okkulte staan die duiwel en grynslag. Deur hierdie daad, sê 1 Kron 10:13-14, het hy sy eie doodsvonnis geteken. Sy verlede het hom ingehaal.