Toe Israel uit Egipte getrek het, toe die nageslag van Jakob getrek het, weg van die volk met die onverstaanbare taal af, het Juda sy gewyde besit geword en Israel sy magsgebied. (vers 1-2)
Die verlossing uit Egipte was vir Israel die bewys dat God Hom aan hulle verbind het en hulle sy volk gemaak het. Hy het die Rietsee oopgekloof (Eks 14) en die Jordaan opgedroog (Jos 3) sodat sy volk in die beloofde land kon ingaan (vers 3); deur sy mag is die berg Sinaï geskud (vers 4) toe Hy sy volk ontmoet het om met hulle ’n verbond te sluit (Eks 19:18). Hy het selfs water uit ’n rots laat vloei (vers 8; vgl Eks 17:6).
Hierdie magtige dade van God het Israel in verwondering gelaat, omdat selfs die natuur aan God gehoorsaam is (vers 5-6). Dit was ook die dissipels se reaksie op Jesus se gesag oor die natuur (Mark 4:41): “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”
Dieselfde Here wat Hom aan Israel verbind het en hulle met groot mag uit Egipte verlos het, het Hom ook in Christus Jesus aan ons verbind deur sy bloed op Golgota (Luk 22:20). Kom ons buig voor Hom met verwondering en ontsag!
Views: 23