In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie. (vers 11, 2020-vertaling)
Die hele psalm gaan oor die wonder van die Bybel (soos die digter dit geken het). Feitlik elke enkele vers in dié psalm verwys na die Bybel (met woorde soos “woord van die Here”, “gebooie”, “weë”, “voorskrifte”, “verordeninge” ens.) om te sê dat dit ons op koers hou.
As ’n mens daaraan dink dat die digter nog niks van die wonderlike boeke van die Nuwe Testament geken het nie, kan ’n mens net jou kop in skaamte laat sak omdat ons so dikwels so traag is om die Bybel te lees. Dink jou vir ’n oomblik die lewe in sonder die Bybel. Wat sou ons van God geweet het? Van sonde? Van die ewige lewe? Van reg en verkeerd? Niks. Soos vers 105 sê: die Bybel is die lig op ons lewenspad.
Doen jouself die guns en lees die hele psalm in een slag deur, al 176 verse daarvan. Jy sal nie spyt wees nie. Lees dit, oordink dit (vers 15, 97), koester dit (vers 11). Dit sal jou ’n gelukkige mens maak (vers 1-2, 143), jou insig verruim (vers 32, 144), jou vertroos (vers 50), jou innerlike vrede gee (vers165) …
Naskrif: Ons los vir eers die Psalms hier. Môre begin ons met die Brief aan die Efesiërs
Views: 16