Daardie nag kon die koning nie slaap nie en het hy opdrag gegee dat die annale gebring en aan hom voorgelees moet word. (vers 1)
Dis nogal merkwaardig dat ’n mens nêrens in die verhaal van Ester enige iets oor God lees nie. ’n Mens sou tog verwag dat ’n boek wat in die Bybel opgeneem is, iewers van God melding maak. Daar is dan ook mense wat sê die boek behoort nie deel van die Bybel te wees nie.
En tog, as jy mooi lees, sien jy God op elke bladsy van die boek; weliswaar nie op die voorgrond nie, maar agter die skerms. Hý is die Een wat soos ’n groot skaakmeester die bord reggekry het om die Bose te oorwin. Hy sorg dat Ester koningin word (Ester 4:14). Hy sorg dat Ahasveros rondrol op sy bed en die annale laat lees. Hy laat Haman op die regte tyd by die paleis aankom (vers 4). ’n Siniese mens sal sê dis alles toevallig, maar ons wat glo dat God die wêreld en sy mense in sy hand hou, weet van beter.
Jou lewe word ook nie deur die noodlot of deur toeval gereël nie. God is in beheer. Glo dit, en kom tot rus.