Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie ’n offer van julle hê nie. (vers 10)
Dit is harde woorde hierdie, des te meer as ons daaraan dink dat dit woorde is wat kom van dié God wat sy gesprek met die volk begin met die woorde van vers 2: “Ek het julle lief.” Wat het dan só skeefgeloop dat die Here wens hulle wil tog net ophou met hulle godsdiens?
Dit lyk my die probleem was dat die volk hulle verwondering voor die Here verloor het. Vir hulle was die offerdiens in die tempel net ’n beslommernis wat jy so goedkoop en met so min moeite moontlik moet afhandel. Solank daar darem net iets is om te offer. Hoe die offer lyk, was nou regtig nie belangrik nie.
Só ver was hulle van die merk dat hulle nie eers kon verstaan hoekom God ongelukkig is nie. Telkens hoor ons hoe hulle verbaas uitroep: Maar wanneer het ons dan iets verkeerd gedoen? Ons is dan so getrou!
God gee om oor hoe ons oor Hom dink. As ons eers gewoond begin raak aan God; as ons godsdiens ’n plig word en nie uit die hart kom nie, is die skrif aan die muur.