Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee. (vers 14)
Dink net: ’n fontein in jou binneste, bruisend van lewe!
Wat is die lewende water wat Hy vir ons wil gee? Dit word deur die Gees in ons gewerk (Joh 7:37-39 ), na die mate dat ons mense van die Woord is (vgl Ps1:3).
Om hierdie borrelende fontein in ons binneste te kry, sê Jesus, moet jy dit vir Hom vra (vers 10), want dis water wat Hy ons gee (vers 14). Dus: Jy moet met jou dors na Jesus toe gaan. En dan moet jy die lewende water wat Hy gee, drink.
Dit kom nie vanself nie. Jy moet jouself doelbewus oopstel vir sy leiding, en smag daarna dat sy Gees jou verander en vernuwe. Maak sy Woord jou rigsnoer, volg Jesus in alles na, lewe gerig op Hom, en stel Hom eerste.
Dis ’n mondvol, en tereg ook. Want hierdie fontein lewende water is nie vir almal nie, en dit borrel nie sommer vanself in ons binneste op nie. Dis Jesus se geskenk vir mense wat naby aan Hom leef.
Dis mos ’n lewe van oorvloed (Joh 1:16)!