Waarom sou die heidene kan sê: “Waar is hulle God nou?” En dit terwyl ons God in die hemel is! Alles wat Hy wil, doen Hy. (vers 2-3)
Die psalm antwoord die vraag van die spotters oor waar God is. Ons het immers nie ’n beeld van God soos die heidennasies van destyds se afgodsbeelde nie. Dit laat die vals indruk ontstaan dat ons nie ’n god het nie. Die psalm kontrasteer die almagtige God van hemel en aarde met die mensgemaakte dooie afgode, en roep dan die ganse gemeente op om die Here te loof (vers 9-11). Hy is immers die Een wat liefde en trou bewys, wat alles wat Hy wil, doen, en sy mense help en beskerm, aan hulle dink en hulle seën (vers 12-13).
Ons situasie is effens anders as in die Bybelse tyd. Mense maak nie meer vandag afgodsbeelde nie. Calvyn het egter gesê die mens is ’n afgodsfabriek, want hy kan van enige ding ’n afgod maak. Sodra jy iets só koester of najaag dat dit uitgroei uit die plek wat dit in jou lewe behoort te hê en ander dinge en selfs vir God begin verdring, word dit ’n afgod.
Prys die Here vandag deur jou hart opnuut aan Hom alleen te verbind.