… die Here (het) vir my gesê: ‘Maak gou en gaan dadelik uit Jerusalem weg. Die mense hier sal nie aanvaar wat jy oor My getuig nie.’ (Hand 22:18)
Uit Lukas se vertelling weet ons dat Paulus heftige teenkanting van die Jode gekry het toe hy ná sy bekering na Jerusalem teruggekeer het (Hand 9:30); tot só ’n mate dat hulle Paulus wou doodmaak. Wat Lukas egter nié vertel het nie, is dat Paulus nie uit die stad wou padgee nie. Hy het geglo dat sy vroeëre ywer in die vervolging dalk gewig sou gee aan sy getuienis (vers 19-20). In sy toespraak op die trappe van die kaserne kry ons ’n stukkie nuwe inligting. Dit was die Here wat hom beveel het om so gou moontlik die stad te verlaat, nie net omdat hy hom misgis het oor die mense se ontvanklikheid vir sy getuienis nie (vers 18), maar veral ook omdat die Here hom nodig gehad het as apostel vir die heidene (vers 21).
Dit gebeur maklik dat ons in ons ywer vir die Here se saak vashaak op ’n idee wat óns dink die beste is. Soos Paulus, moet ons naby genoeg aan die Here leef dat Hy ons op sý pad sal lei.