… julle het nie my wil gedoen nie, julle was nie onpartydig in julle uitsprake oor wat my wil is nie. (vers 9)
Die priesters het die roeping gehad om God se Naam te eer (vers 2). Dit was nie net om die offerdiens by die tempel te behartig nie. Hulle moes deur hulle voorbeeld en leiding doen (vers 6-7, vgl Lev 10:11).
Helaas het die priesters in Maleagi se tyd jammerlik in hulle roeping gefaal en sodoende die hele volk in die steek gelaat (vers 8). Politieke dienstigheid was belangriker as regsinnigheid (vers 9).
Ons kan ons skouers optrek en sê dit was maar so in daardie tyd, maar dan sal ons vergeet dat ons óók priesters van God in die wêreld is (1 Pet 2:9). Dis óns roeping vandag om God se Naam te eer deur ons woorde en voorbeeld.
Een van die maniere waarop ons ons roeping faal, is dat ons stilbly wanneer ons behoort te praat. Politieke korrektheid maak dat ons nie meer onwrikbaar by die waarheid van die evangelie staan nie. Die integriteit van die huwelik is lank nie meer ’n heilige saak nie, en dit terwyl God egskeiding haat (vers 16).
Dis tyd vir hand in eie boesem steek!