Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” (vers 1)
Die vreugde van saam met ander te aanbid, inspireer die pelgrim om hierdie lied te sing. Die lof van die Here staan vir hom voorop as hy sy ervaring van die fees in herinnering roep (vers 4).
Ons het nie meer ’n sentrale plek soos Jerusalem en die tempel waar ons God saam met ander loof nie. Ons het wel die kerk. Tog kan ons nie oor die kerk dink soos die Israeliete oor Jerusalem gedink het nie. Die kerk is immers nie die setel van regspraak en regering nie. Die kerk is ’n brose plek waar Jesus behoort te heers as koning. Te dikwels gebeur dit helaas nie. Te veel mense probeer die regering van die kerk kaap vir hulle eie agendas, en dit lei daartoe dat die kerk ’n plek van konflik en pyn kan word.
Daarom is die oproep van die digter ook vir ons gepas (vers 6-9). Ek en jy moet bid vir die kerk, vir vrede in die kerk, nie net ter wille van die lidmate nie, maar ter wille van die gemeenskap waarin die kerk funksioneer. En ter wille van Christus ons Koning.
Views: 12