Saul is dood oor die troubreuk wat hy teenoor die Here begaan het deurdat hy aan die bevel van die Here ongehoorsaam was, en ook deurdat hy raad gevra het by ’n gees in plaas van die Here te raadpleeg. (1 Kron 10:13-14a)
Saul is ’n tragiese figuur. Hy het soveel potensiaal gehad. Hy was rysig van gestalte, nederig (1 Sam 10:20-24), toegerus deur die Gees (1 Sam 10:6) en het daarby die hele Israel se lojaliteit gehad. Maar van al hierdie dinge vertel die Kronis ons niks nie, want uiteindelik het dit nie ’n verskil aan Saul se regering gemaak nie. Hy het klaaglik misluk omdat hy aan die Here ontrou geword het. Die toppunt daarvan was toe hy die dodebesweerder van En-Dor besoek het (1 Sam 28:7 ev). Daarom sterf hy in wanhoop op Gilboa, en sy seuns saam met hom.
Saul se lewe bly ’n verskriklike waarskuwing dat ’n goeie begin nie al is wat saak maak nie, al sê ons: “Goed begin is half gewin.” Dis hoe jy klaarmaak, wat belangrik is. End-uit volhard, sê Heb 3:14. Dit is ook wat Paulus aan die einde vir Timoteus (2 Tim 4:7) skryf.
As jy deel van die Kronis se vertelling was, wat sou hy oor jóú skryf?