Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (vers 8)
Hierdie lied is in ’n sekere sin die antwoord op Ps 123, wat eindig met ’n smeekgebed om God se genade, sonder dat hy ’n antwoord kry. Nou antwoord Ps 124 met ’n jubeling: die Here hét gehelp. Sonder sy hulp was hulle verlore.
Dit was die realiteit van Ou Israel se bestaan te midde van oorlogsugtige buurvolke. Slegs die Here se beskerming het gekeer dat die buurvolke hulle insluk. Daarvoor dank hierdie lied die Here.
Ons situasie vandag is dramaties anders. Ons het goed in plek om ons te beskerm teen onheil – versekering, medisyne, tegnologie, beraders, ’n regstelsel … Dit het tot gevolg dat baie mense dink hulle het God nie regtig nodig van dag tot dag nie. Dit is hoekom Jakobus sê ons moet bly wees as beproewings ons tref, want dan besef ons weer dat ons God nodig het (Jak 1:2-3).
Daarom is dit goed dat baie eredienste vandag nog begin met die woorde van vers 8. Dit herinner ons gereeld waar ons hulp vandaan kom.
Ook vandag het jy Hom nodig. Ook vandag help Hy jou. Daarom, ook vandag, dank Hom vir sy hulp.
Views: 6