Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (vers 1)
Gelowiges beland ook in krisisse. Hierdie psalm is ’n sprekende bewys daarvan, en nooi ons uit om in ons nood ons lot by God te gaan bekla. Jy hoef nie jou swaarkry stoïsyns te verduur en in stilte te ly nie. Praat met God daaroor. Jy kan eerlik met jou gevoel van ontreddering en nood na God te gaan en jou hart voor Hom uitstort. Die feit dat jy die ervaring het dat God stil is (vers 9), beteken nie dat Hy afwesig is nie.
God is immers die God wat oor alle magte en omstandighede heers (vers 12-17). Daarom kan ons met vrymoedigheid na Hom gaan en om uitkoms bid.
Ons dink dikwels ons moet vir God se eer opstaan en Hom verdedig wanneer spotters sy bestaan of sy mag bevraagteken. Die digter van Psalm 74 doen dit nie. Hy laat dit aan God oor en pleit by Hom om ter wille van sy Naam in te gryp.
Die Here Jesus het aan die kruis ook ’n tyd van Godverlatenheid beleef en openlik met die Vader daaroor gepraat (Matt 27:46). Jy kan ook!