Dawid het toe besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en dat die Here Dawid se koningskap in hoë aansien gebring het ter wille van die volk Israel. (vers 12)

Dit is interessant hoe die klem in hierdie hoofstuk, wat vertel van Dawid se prestasies, nie soseer op Dawid val nie, maar op die Here. Dawid sien die Here se hand in sy koningskap en in sy betrekkinge met koning Hiram van Tirus. Hy veg ook in afhanklikheid en onder aanvoering van die Here teen die Filistyne (vers 19 en 23).
Dis maklik om in die versoeking te val om groot prestasies of erkenning wat na jou kant toe kom, vir jou eie rekening te vat (vgl die gelykenis van die ryk dwaas in Luk 12:13-21). Koning Hiskia het ook in dié slaggat getrap (Jes 39:1-8). Dawid gee deurgaans die eer aan die Here (vers 12 en 20).
Spoggerigheid pas nie by ’n gelowige nie. Selfs ons getuienis moet met beskeidenheid gegee word (1 Pet 3:16). En waar Paulus oor ons lewenswandel voor God praat, skryf hy: “Wees altyd beskeie …” (Ef 4:2). Die Spreuke-digter herinner ons dat die Here goed is vir dié wat beskeie is (Spr 3:34). Dis ook hoe Jesus Homself beskryf (Matt 11:29).

image_pdfimage_print

Views: 7

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.