“Wanneer julle sien die Levitiese priesters dra die verbondsark van die Here julle God, moet julle van julle staanplekke af vertrek en die ark volg, sodat julle kan weet watter pad om te gaan, want julle het nie vantevore met dié pad langs gegaan nie. Maar daar moet ’n behoorlike afstand wees tussen julle en die ark, omtrent nege honderd meter. Moenie te naby hom kom nie.” (vers 3-4)
’n Nuwe era breek vir Israel aan. Hulle betrek ’n onbekende land. Alles is vreemd; ook die pad wat hulle moet vat. Dis amper waar óns nou is: in ’n vreemde, onbekende situasie, en ons weet nie eintlik waar dit gaan eindig of hoe die lewe ná COVID-19 gaan lyk nie. Dit maak ’n mens onseker en selfs angstig.
Jy hoef nie so te wees nie, want jy is nie alleen in hierdie vreemde situasie nie. God gaan voor ons uit, soos Hy voor die Israeliete uitgegaan het. Hy is nie verniet “die Here van die hele aarde” (vers 11 en 13) nie! Hy kan wonders doen, soos Hy vir die Israeliete gedoen het. Ons moet Hom net nougeset volg (vgl. Hebreërs 12:1-3).