Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? (vers 5)
Op die oog af lyk dit na ’n edel plan van Dawid om vir God ’n tempel te bou. Al die omringende volke het immers tempels vir hulle gode gehad. En Dawid woon in ‘n splinternuwe paleis. Dis niks minder nie as reg dat hy vir die Here ook ‘n huis bou. So redeneer hy. En die profeet Natan stem saam (vers 3).
Daar is egter ’n verskil tussen wat godsdienstige mense vir die Here wil doen en wat die Here wil hê. Daarom is dit noodsaaklik om God se leiding in alles te soek, soos Dawid hier gedoen het (vers 2). Jakobus waarsku ook teen beplanning wat nie met God se plan rekening hou nie (Jak 4:13-16).
Dit was ’n vergissing van Dawid om te dink hy moet vir God ’n tempel bou. God woon nie in ’n huis of ’n tempel of ’n kerk nie. Hy woon waar sy mense is; waar die lofsange van sy volk weerklink (Ps 22:4). ’n Kerk is vir ons van groot waarde, maar God het nie een nodig nie. Dit bevestig Jesus later aan die Samaritaanse vrou (Joh 4:21-24).
Views: 5