Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. (1 Kor 7:14)
Wat ’n ongelooflike troos vir ’n ouer wie se eggenoot nie ’n gelowige is nie! Die kinders behoort steeds aan die Here, want die geloof van die ouer oordek die kinders. Natuurlik plaas dit ’n dubbele verantwoordelikheid op die gelowige ouer (en grootouers) om die kinders vir die Here groot te maak. Die kwaliteit van so ’n ouer se geloofslewe sal uiteindelik die deurslag gee as die kinders eendag self ook moet kies, sodat hulle die pad van die gelowige ouer stap. Ons mag aan dié belofte vashou. Hulle behoort aan God (vers 14).
Ek haal my hoed af vir ’n ouer wat Sondag na Sondag alleen met die kinders kerk toe gaan. Ons moet baie meer vir hulle bid.
Paulus sê nie dat die ongelowige eggenoot gered word deur die band met die gelowige eggenoot nie. Dis immers net die Gees wat dit kan doen. Paulus gebruik die term “geheilig” of “by God aanneemlik”. Tog bly die hoop bestaan (vers 16).
Views: 20






