Op ’n dag het Dawid gevra: “Het daar nie miskien iemand uit Saul se familie oorgebly nie? Ek sou hom graag onder my sorg wil neem ter wille van Jonatan.” (vers 1)

Dit was destyds die gebruik dat ’n nuwe koning die hele familie van die vorige koning uitwis om seker te maak dat daar nie ’n aanspraakmaker op die troon uit die ou koningshuis sou opstaan nie. Jehu se optrede is hiervan ’n aaklige voorbeeld (2 Kon 10:1-18). Dawid was anders. Hy wou nie die huis van Saul uitroei nie. Hy het immers aan Saul (1 Sam 24:21-23) en aan Jonatan (1 Sam 20:14-17) belowe dat hy na hulle mense sal omsien.
Hier kom Dawid nou sy belofte na, en dit nogal teenoor die kreupel Mefiboset, al het hy kreupeles gehaat (2 Sam 5:8). Hy sien nie net toe dat sy vriend Jonatan se seun goed versorg is nie; hy sorg selfs vir sy nageslag.
Ons leef in ’n tyd waarin beloftes maklik verbreek word en woorde goedkoop geword het. Dis nie hoe gelowiges leef nie. Beloftes maak skuld, selfs al is die persoon of persone teenoor wie jy die beloftes gemaak het, nie by om jou daaraan te herinner nie.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.