Terwyl hulle by die groot klip in Gibeon was, het Amasa by hulle gekom. (vers 8)
Amasa was ’n susterskind van Seruja (17:25) en dus ’n neef van Joab. Absalom het hom as hoof van sy leër aangestel om teen Dawid te veg, maar ná Absalom se dood het Dawid hom in Joab se plek hoof van die leër gemaak om Israel se lojaliteit terug te wen (19:13).
Met sy heel eerste opdrag sleep Amasa egter voete (vers 5), wat nie net vrae oor sy bekwaamheid gewek het nie, maar ook oor sy lojaliteit teenoor Dawid. Boonop tref Joab-hulle hom in Gideon in die gebied van Benjamin aan, wat verdere suspisie wek. Joab is nog gebelg omdat Amasa hom as hoof van die leër vervang het en het nie verdere aanmoediging nodig om Amasa uit die weg te ruim nie (vers 10), net soos hy vroeër met Abner gedoen het (3:27).
Joab neem nou weer bevel oor en beleër Abel, die stad waar Seba skuiling gaan soek het (vers 14). Hy sou sonder skroom die hele stad vernietig het as dit nie vir die wysheid van ’n vrou was nie (vers 16).
Selfs toe die wêreld deur mans oorheers is, was dit dikwels vroue wat moeilike situasies beredder het.
Views: 8