U weet dat ek nie skuldig is nie, maar niemand kan my uit u hand red nie. (vers 7)
Job se gesprek met God duur voort. Hy het ook, soos sy vriende, geglo dat God die goeie beloon en die verkeerde straf, maar dit maak nou glad nie meer sin nie, want hy ly, al weet hy (én God) dat hy onskuldig is (vers 7). Dís die groot worsteling in sy gemoed: hy verstaan nie wat aangaan en waarmee God besig is nie (vers 2).
Die lewe, so begin Job agterkom, is nie so eenvoudig soos hy altyd gedink het nie, en soos sy vriende steeds glo nie. Alles kan nie met ’n logiese oorsaak en gevolg verklaar word nie. Een plus een is nie altyd twee nie. Die lewe is veel komplekser as dit.
Só werk dit ook in die geestelike lewe. Daar is eenvoudige waarhede wat die grondbeginsels is waarop ’n mens kan staatmaak. Dinge soos God wat gebede verhoor, wat genadig en barmhartig is, wat ons lief het meer as wat ons kan dink. Siekte, verganklikheid en boosheid pas nie so gemaklik in dié prentjie nie. Dan moet ons glo dat God alles ten goede laat uitwerk (Rom. 8:28), ook te midde van ons lyding.
Views: 8