Ek was die koning se skinker. (vers 11)
Die skinker was destyds ’n baie belangrike persoon aan die hof. Hy moes die wyn proe voor hy dit aan die koning voorsit om seker te maak dis veilig om te drink. Die skinker het verder ook toegang tot die koning se harem gehad, wat hom in ’n besondere vertrouensposisie geplaas het. Skinkers was dikwels vertrouelinge van die koning.
Nehemia was dus ’n persoon wat nie net toegang tot die koning gehad het nie, maar ook deur die koning vertrou is. Daarom was hy in die ideale posisie om vir sy mense by die koning in te tree en hulle lot by hom te bekla.
Nehemia kon seker vir Ganani ’n koue skouer gegee het. Hy het ’n goeie en baie invloedryke pos gehad; een met prestige en baie byvoordele. Hy offer dit egter op omdat hy in Ganani se woorde die roepstem van God gehoor het.
Dink ’n bietjie oor jou eie situasie. Dalk is jy in ’n posisie waar jy ’n verskil kan maak in ander se lewens (vgl Ester 4:14). Dit kan jou gesin wees, of jou kollegas, of jou bure, of werknemers. Bid daaroor, soos Nehemia (vers 4), en gryp dan die geleentheid.