Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly. God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor. (vers 43)
Teenoor wat hier oor die fees van die muur-wyding geskryf word, lyk ons eie kerklike feeste maar vaal. Ons is nie geneig om uitbundig fees te vier nie. Ons dink ingehoue en innerlike blydskap is genoeg, soos Mikal wat vir koning Dawid verwyt het omdat hy voor die ark uit gedans het (2 Sam 6:16). Uitbundigheid is ligsinnig, dink baie. Daarom sing ons “Prys die Heer met blye galme!” met stroewe gesigte, sonder ’n sweem van ’n glimlag. Ons lyftaal weerspreek ons woorde. Maar as ons geestelike vreugde nie liggaamlik uitdrukking kry nie, is daar fout, wil Nehemia vir ons sê. ’n Feeslose fees.
As ’n mens lees oor die instelling van die Ou Testamentiese feeste, val dit ook op. In Deut 16:14, waar die voorskrifte vir die huttefees gegee word, staan: “Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.”
Ook hierdie dag is ’n gawe van God. Laat ons juig en bly wees (Ps 118:24).
Views: 7