(Johannes) het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. (vers 3)
’n Mens kan jou nogal verwonder oor die presiese manier waarop Lukas Jesus se geboorte in Luk 2:1, en die begin van sy openbare optrede in Luk 3:1 dateer. Hy sê presies in watter tyd dit gebeur het. Want hy wil hê ons moet verstaan dat Jesus nie “eendag, lank lank gelede” geleef het nie. Jesus het regtig deel van hierdie wêreld en hierdie wêreld se geskiedenis geword. Want as God na ons toe kom, wil Hy deel wees van ons wêreld, van elke dag se geswoeg, vreugdes, opwinding en konflikte. Hy wil deel wees van ons persoonlike wêreld.
Natuurlik wil Hy ook deel wees van ons openbare wêreld, waar politici en administrateurs en ekonome meen hulle swaai die septer.
Dis in híérdie wêreld waar Johannes die Doper geroep het: “Bekeer julle.” Hierdie bekering het baie kante, en praat met verkillende mense op verskillende maniere. Ook met jou en my. Ons het óók bekering nodig. Ons het dit nodig dat ons ’n ander pad inslaan: nie soseer ’n pad terug nie, maar eerder: terug op die pad, God se pad.
Wat maak jý met Johannes se oproep?