Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee. (vers 21)
Judas waarsku sy lesers in hierdie kort brief teen lidmate van die gemeente wat voorgee dat hulle glo, maar in werklikheid vertel hulle lewe ’n heel ander storie. Hulle leef in sedelose losbandigheid (vers 8), hulle besoedel die liefdesmaal van die gemeente deurdat hulle net vir hulleself sorg en skaamteloos uitspattig is (vers12), en boonop kla hulle gedurig, is ontevrede met hulle lot en leef selfsugtig. Hulle spog graag en smeer die heuningkwas kwistig vir eie voordeel (vers 16).
Jy ken waarskynlik ook sulke gemeentelede, en dink dalk dis nie so erg nie. Hulle is darem kerkmense. Judas sê reguit sulke mense is op pad hel toe (vers 13b).
Hoe ontkom ’n mens aan hulle bose invloed wat selfs die gemeente besoedel en verdeeldheid bring (vers 19)? Beslis nie deur net heeltyd teen die vals leraars te wees nie, want dit sal jou ook besoedel. Nee, fokus op ’n persoonlike en innige verhouding met God (vers 20). Dit behels ’n lewe van gebed en liefde, in die verwagting dat die Here Jesus se barmhartigheid vir jou ook insluit (vers 21).
Naskrif: Môre begin ons met die boek Esra.
Views: 41






