Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. (vers 19)
Die diepste geheime van ons hart, die gespook teen die sonde en sondige neigings in ons, is iets waaroor ons liefs nie praat nie. Ons probeer dit so goed moontlik wegsteek van ander, en selfs van onsself. Ons probeer om nie daaroor te dink nie, want dis te ontstellend.
In die lig hiervan is Paulus se ontboeseming hier ongelooflik. Hy, die reus onder die Nuwe Testamentiese gelowiges, hy wat ’n passie vir Christus en die evangelie gehad het, hy wat by geleentheid (2 Kor 5:14) erken het dat die liefde van Christus hom drywe – hý kom hier en erken dat hy sukkel met homself en die sondige, verkeerde drifte in hom. Hy sê hy verstaan homself nie, want hy doen nie wat hy wil nie, en roep dan moedeloos uit (vers 24): “Ek, ellendige mens!”
Hiermee verwoord Paulus baie gelowiges se frustrasie en hartseer oor die sonde in hulle lewe. Dalk joune ook? Weet dan: jy is nie alleen nie. Maak soos Paulus. Gryp Jesus Christus ons Here se verlossing elke dag opnuut aan (vers 25). In Hóm is daar vrede vir jou gemoed.
Views: 49
Daar is skrywers wat beweer dat wanneer Paulus praat oor dit wat hy graag wil doen, dit doen hy nie, maar wat hy nie wil, dit doen hy, dat dit die sonde van die wereld is, en slegs die God’s genade eeur die Seun Christus, wat verlossing bring.