Adoniram seun van Abda was in beheer van die dwangarbeid. (vers 6)
Die skrywer berig hier oor die goue era van die Israelse geskiedenis; ’n tyd toe die burgers veilig gewoon het, “elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit” (vers 25). Dit klink idillies, en dit wás ook baie anders as in Dawid se tyd toe daar voortdurend oorlog gevoer is.
Dié voorspoed het egter met ’n prys gekom. Salomo se huishouding het sodanig uitgebrei dat belastings via streekbestuurders ingevorder moes word (vers 7-19). Boonop het Salomo dwangarbeid uitgebrei en selfs Israeliete daarvoor gebruik. Dit was een van die redes waarom die noordelike stamme ná Salomo se dood weggebreek het – Salomo se seun Rehabeam wou nie die las van die staat op die burgers verminder nie. Só kwaad was die mense daaroor dat hulle vir Adoniram gestenig het, en so byna-byna vir Rehabeam ook (1 Kon 12:18).
Dwangarbeid was die rede hoekom die Israeliete uit Egipte weg is. Dat ’n wyse man soos Salomo sy mense soos slawe behandel, is verstommend. Dis wat rykdom en mag kan doen: dit maak jou blind vir ander mense.
Daarom moet ons Jesus se waarskuwing oor gierigheid en rykdom (Luk 12:15-21; sien ook Luk 18:25) ernstig opneem.
Views: 14