Koning Salomo het al die konings van die aarde oortref in rykdom en wysheid. (vers 23)
Salomo laat my met gemengde gevoelens. Aan die een kant was hy die briljante, wys en skatryk koning wat alombekend was in die destydse wêreld, en belangrike figure van oral-oor getrek het met sy buitengewone wysheid en rykdom. Iets van sy liefde vir die Here is ook duidelik uit die koningin van Skeba se reaksie tydens haar besoek (vers 9). Sy aangrypende gebed met die inwyding van die tempel vertel ook daarvan (1 Kon 8). In dié opsig sien ons in hom hoe God se beloftes (1 Kon 3:12-13) waar geword het.
Aan die ander kant wys Salomo so duidelik dat dit sterk bene kos om rykdom en roem te dra. Hy het dit nie gehad nie. Sy roem en rykdom het kop toe gegaan. Hy gaan oorboord met uitspattige versierings, soos die goue skilde en ivoor- en goue troon (vers 16-20), alles net om indruk te maak. En ’n mens wonder waarom hy so ’n magtige klomp perde op stal gehad het (vers 26). Deut 17:16 het dit immers uitdruklik verbied.
God se seëninge lei nie noodwendig tot godsvrug vir dié wat dit ontvang nie. Daarvoor is nederigheid en beskeidenheid nodig (Rom 12:3).
Views: 7