Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien, maar jy sal nie daarvan eet nie.” (vers 2)

’n Mens kan die adjudant se standpunt verstaan. Ná maande van uitmergelende hongersnood as gevolg van droogte en die beleg was dit redelik om te dink dit kan nie oornag regkom nie. Maar wat redelik is en wat God doen, is nie dieselfde nie. Wie van ons sou aan die oplossing kon gedink het om die vyand op loop te jaag sodat hulle besittings en kos vir die stad beskikbaar is? Soos die engel Gabriël vir Maria gesê het (Luk 1:37): “Niks is vir God onmoontlik nie.”
Die fout wat die adjudant – en dikwels ook ons – maak is om God te onderskat; om te dink Hy is soos ons, net meer so. Maar, soos Karl Barth gesê het, God is die “Gans Andere”. Niks op hierdie aarde kan ons voorberei op Hom en sy grootse andersheid nie.
Net ’n vragie. Sou jý geglo het dat alles binne ’n dag na normaal kon terugkeer (vers 1)?

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.